‘n Bietjie agtergrond oor ons: Ons woon in Pretoria, albei gebore en grootgeword tot en met ons huwelik in Krugersdorp. Ons het twee seuns wat met hulle gesinne in Pretoria en Hartebeespoortdam woon. Ons is al 55 jaar getroud.
Na ons aftrede uit die voltydse bediening van oor die drie dekades by die Volle Evangelie Kerk van God, bedien ons steeds Woord en sang regoor die land op uitnodiging asook die audio bediening van Vroeë Oggend Manna.
VROEË OGGEND MANNA AUDIO BEDIENING was baie duidelik in my hart geplaas deur die Here tydens my stiltetyd een oggend in Januarie 2012. Ek kon die hele wêreld bereik met die evangelie op Whatsapp met my selfoon. Dit het aanvanklik klein begin maar binne 6 weke uit sy nate gebars en met om en by 100 luisteraars per dag gegroei. Al die eer en lof aan die Here.
Die boodskap van tussen 15 en 20 minute word daagliks, Maandae tot Vrydae per WhatsApp en Telegram om 04:30 uitgestuur, juis om mense toe te rus met die Woord voor hullle dag begin.
Huidiglik, stuur Wilna en myself daagliks na oor die vyf duisend persone regoor die wêreld wat dan soos u weet deur elke person aangestuur word na familie en vriende en dan verder ‘n kettingreaksie vorm.
Elke boodskap word op suiwer Woord gebasseer en deur leiding van die Heilige Gees uit die 1933/1953 vertaling. Al die Lof en dank aan die Koning van die Konings wat self Sy Woord rig en stuur tot Sy eer en welbehae.
Op die mp3 skakels kan u na die boodskappe gaan om te luister of af te laai. Daar is ook argiewe van vorige jare se boodskappe hier op ons webwerf beskikbaar. As u egter die boodskappe daagliks per whatsapp direk wil ontvang om 04h30 kontak Past Pieter op 0828257572, of Wilna op 0723415365.
Ons versoek u egter om self aan familie en vriende te stuur en dat u prentjies, videos en preke net met noodsaaklike omstandighede aan ons sal stuur.
U kan dringende gebedsversoeke rig aan die gebedspan op dieselfde nommers, asook versoeke vir bevryding. As gevolg van die baie ure wat ons daagliks aan hierdie bediening spandeer is dit egter onmoontlik vir ons om berading, bevryding of hospitaalbesoeke te doen. Ons sal u egter met groot liefde verwys na persone wat geroepe is tot hierdie bedieninge.
Ons vertrou dat u saam met ons ‘n geseënde reis deur die Woord sal geniet.